STEYTLERVILLE

Proud socio-cultural village

Steytlerville trotseer die reën (Berig in die Burger)

Die Steytlerville gemeenskap het weereens sy staal bewys toe hulle,  ondanks swaar reën en amper vloed omstandighede die 2012 “Amazing Karoo Cycle Bazaar” met soveel sukses aangebied het.  Die geleentheid word jaarliks aangebied ten behoewe van die plaaslike gemeenskap waarby die NG en Methodiste Kerke met hulle jaarlikse basaar ook betrek word vir fondsinsameling.  Die hoofdoel van die dag is ook om Steytlerville en die Baviaans aan besoekers van omliggende dorpe en stede as n toeristebestemming te bemark om sodoende ook die ekonomie van Steytlerville te stimuleer.  

Vir die bergfiets fietsryers was daar 'n gulde geleentheid om die asemrowende Karoo landskap te kon geniet met die 10, 40, 65 en 80km roetes wat vir die dag uitgelê was.   Ongelukkig is die beplanning bietjie in die wiele gery weens die swaar reën wat Steytlerville die afgelope paar dae ondervind het.  Inderhaas moes daar ander planne gemaak word.  In bespreking met die komitee en die fietsryers is daar toe besluit om die roete te verander om die veiligheid van die deelnemers te verseker.  “Ons is so dankbaar dat die fietsryers die veranderings en die omstandighede in so `n goeie gees aanvaar het.” sê Marli Du Plessis, voorsitster van die Cycle Race Komittee.   

Buiten die aanloklike pryse wat aan die wenners van elke wedren aangebied is, is daar ook geluksakkies aan die fietsryers uitgedeel.  Die sakke is geverf deur die kinders van die Downs Sindroom Vereeniging in Kaapstad.

'n Spesiale roete is aangelê vir deelnemers uit die voorheen benadeelde gemeenskap om met hulle dikwiel fietse die uitdaging aan te durf.  Volkswagen het wonderlike pryse vir die wenners van die wedren geborg.

Hoof Borge wat die dag moontlik gemaak het was, Volkswagen en Tasol Solar.  Besighede uit die plaaslike gemeenskap en mense met `n passie vir Steytlerville het hul hande diep in hul sakke gesteek om ook bydraes te maak vir die dag.